Sneeuwitjie - Kort Storie
Sneeuwitjie - Kort Storie
Lank, lank gelede in ‘n verre koninkryk het daar ‘n pragtige koningin saam met ‘n koning gewoon. Die koningin het ‘n baba verwag en gewens dat die baba ‘n dogtertjie sal wees. Die koningin se wens het waar geword en Sneeuwitjie is gebore met ‘n vel so wit soos sneeu, hare so swart soos ebbehout en lippe so rooi soos rose.
Sneeuwitjie se mamma het siek geword en sy het gesterf.
Die koning was hartgebroke en hy het nie geweet hoe hy Sneeuwitjie alleen gaan grootmaak nie, dit is toe dat hy besluit om weer te trou. Sneeuwitjie se stiefma was beeldskoon, maar sy was nie ‘n goeie mens nie. Soos die jare aangestap het, het Sneeuwitjie net mooier en mooier geword en haar stiefma was jaloers op Sneeuwitjie se skoonheid.
Die koningin het gereeld, wanneer niemand kyk nie, na die kasteel se donker kelder gegaan waar sy haar geheime towerspieël weggesteek het. Sy het dan vir die spieël gevra “Spieëltjie, Spieëltjie aan die wand, wie’s die mooiste in die land?” Elke keer het die spieël geantwoord “U, my koningin, is die mooiste van almal.” Op ‘n dag het die spieël egter geantwoord “Sneeuwitjie is nou die mooiste van almal.”
Die koningin was woedend.
Haar jaloerse hart kon nie verdra dat iemand mooier as sy is nie, nog minder dat dit Sneeuwitjie was. Die koningin beraam ‘n bose plan en laat kom ‘n jagter om Sneeuwitjie na die woud te neem en haar daar dood te maak. Sy het vir die jagter gesê as hy nie vir Sneeuwitjie doodmaak nie sal sy hom laat doodmaak.
Die jagter was ‘n goeie man, hy kon dit nie oor sy hart kry om Sneeuwitjie dood te maak nie. Hy waarsku Sneeuwitjie dat haar stiefma haar wil laat doodmaak en sê dat sy moet vlug. Sneeuwitjie hardloop so vinnig as wat sy kan en so ver as wat sy kan tot sy doodmoeg in die woud gaan lê.
Die diere in die woud hou Sneeuwitjie dop en gaan lê rondom haar om haar te beskerm. Wanneer Sneeuwitjie wakker word lei die diere haar na ‘n klein huisie in die middel van die woud. Die huisie is baie deurmekaar en sy besluit om die huisie skoon te maak in die hoop dat die mense wat daar woon haar sal toelaat om daar te bly.
Die huisie behoort aan die 7 dwergies. Hulle is verstom om Sneeuwitjie daar te sien. Sy vertel vir die dwergies haar lewensverhaal. Hulle luister aandagtig en stem in dat sy by hulle kan bly so lank as wat sy nodig het.
By die paleis is die koning hartseer vandat Sneeuwitjie weg is en boonop is die koningin naar met hom. Sy regeer die paleis en die personeel met ‘n ysterhand.
Die koningin het intussen uitgevind Sneeuwitjie leef nog. Sy gaan na haar geheime kamer in die kelder en smee nog ‘n bose plan. Sy doop ‘n bloedrooi appel in ‘n dodelike hekse brousel. Een hap van die appel en jy sal dood neerval.
Die koningin vermom haarself as ‘n ou vrou en loop tot by die dwergies se huisie en klop aan die deur. Sneeuwitjie sien die ou vrou met die appels. Die ou vrou bied van die appels aan Sneeuwitjie. Sneeuwitjie vat een hap en sak inmekaar.
Die nare koningin is verheug want haar plan om Sneeuwitjie dood te maak het geslaag. Sy lag so, sy val van ‘n krans af. Dit is die einde van die nare koningin. Die diere gaan roep die dwergies sodat hulle Sneeuwitjie kan help. Die dwergies se pogings is egter onsuksesvol, hulle kan Sneeuwitjie nie bybring nie.
Hulle bou vir Sneeuwitjie ‘n pragtige kis van glas en waak by haar. Maande gaan verby. Op ‘n dag kom ‘n aantreklike prins verby, hy kan nie sy oë van Sneeuwitjie afhou nie en hy soen Sneeuwitjie. Stadig ontwaak Sneeuwitjie uit haar diepe slaap en maak haar oë oop. Dit is liefde met eerste oogopslag. Sy gaan saam met die prins na sy kasteel. Sneeuwitjie en die prins het getrou en vir altyd en ewig gelukkig saam gewoon.
Geniet hierdie kort storie in HD.